Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 30 Desember 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

IN DIE NUUS VANDAG:

OKOSA Lę DIE NUWE KONSEP NASIONALE RADIOFREKWENSIEPLAN TER TAFEL

MIN GROEI VERLEDE WEEK IN DIE ANTENNAVEDEDIGINGSFONDS

MAAK GEREED VIR DIE JEUGNAELLOOP OP 23 FEBRUARIE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

OKOSA Lę DIE NUWE KONSEP NASIONALE RADIOFREKWENSIEPLAN TER TAFEL

OKOSA het ‘n konsep van die Nasionale Radiofrekwensieplan vir kommentaar teen 8 Februarie 2013 voorgelę. Hierdie nuwe plan is die basisdokument vir die toekenning van die spektrum aan ‘n verskeidenheid van dienste. Die naastenby 200-bladsy dokument vereis noukeurige beskouing ten einde te verseker dat toekenning ten opsigte van die amateurgarde in alle opsigte gedek is, in besonder ten opsigte van die BHF-, UHF- en Mikrogolfbande. Gazette nommer 36025 is beskikbaar by www.amateurradio.org.za/SARLREGULATORYWG.htm. Radioamateurs word vriendelik versoek om hierdie dokument in detail te bestudeer en daarna terugvoering aan die SARL se Regulatoriese Werkgroep, nie later nie as 15 Januarie 2013, te voorsien, asseblief. Stuur insette na sarlregwg@sarl.org.za.

Een onmiddelike positiewe aspek is dat die nuwe toekenning van 472 – 479 kHz tot amateurradio aangedui word as sekondęre toekenning wat die weg baan vir toekenning sodra en wanneer die PLAN aanvaar is.

Die SARL het aansoek aan OKOSA gerig vir die uitbreiding van die 160 meterband. Hiervoor was nie in die konsepdokument voorsien nie. Daar is egter 'n voetnota wat die weg baan vir verdere bespreking. Voetnota 5.096 lys ‘n aantal lande waar bepaalde administrasies 1 810 tot 2 000 kHz aan die amateurradiodiens mag toeken na raadpleging met buurlande.

Die SARL sal op ‘n deurlopende grondslag die moontlikhede van banduitbreidings nastreef.

Die nuwe SARL Regulatoriese Werkgroep vergader vroeg gedurende Januarie 2013. Gemelde Werkgroep beskik tans oor drie lede maar versoek meer radioamateurs wat in regulatoriese aangeleenthede belangstel om spoedig hulle dienste aan te bied – stuur asseblief u besonderhede na sarlregwg@sarl.org.za.

MIN GROEI VERLEDE WEEK IN DIE ANTENNAVEDEDIGINGSFONDS

Tans staan die antennaverdedigingsfonds op R25 650 wat net oor 50% van die mikpunt van R50 000 is. Baie dankie aan radioamateurs en klubs wat reeds bygedra het. U ondersteuning word hoog op prys gestel.

Soos ons die nuwe jaar betree en klubs weer aktief raak en vergaderings begin hou, vertrou ons dat daar meer bydraes van klubs sal inkom.

Om te sien wie reeds bygedra het, besoek www.sarl.org.za en kies ADF uit die linkerhandse spyskaart.

Op die ADF-bladsy kan besonderhede van die fonds gesien word en wat en waarom die SARL dit doen om dit vir radioamateurs moontlik te maak om antennatorings op te rig sonder om eindelose papierwerk te verrig en kostes aan te gaan.

MAAK GEREED VIR DIE JEUGNAELLOOP OP 23 FEBRUARIE

Die SARL se jeugnaelloop sal op 23 Februarie gehou word en nie langer op Jeugdag op 16 Junie nie. Die rede vir die verandering is omdat daar so baie aktiwiteite op Nasionale Jeugdag plaasvind en skole en jongmense dit moeilik vind om aan al die aktiwiteite deel te neem. Die naelloop vind van 10:00 tot 12:00 SAT plaas met 'n spesiale aktiwiteit reeds om 09:00.

Die SARL wil graag 'n oudio-opname saamstel van die opinies van jong radioamteurs oor amateurradio en waarom hulle by amateurradio betrokke geraak het.

Die opnames sal telefonies vanaf die middel tot aan die einde van Januarie gedoen word. Ten einde daaraan deel te neem, stuur 'n e-pos met u naam, roepsein en telefoonnommer aan youth@sarl.org.za en u sal gekontak word om 'n datum en tyd vir die opname te reël. Alle deelnemers sal aan 'n gelukstrekking vir waardevolle pryse deelneem.

Hou SARLNUUS en die SARL se webwerf dop vir verdere inligting.

SARL SE BLOU BOEK

Die SARL se Blou Boek is nou aan lyn beskikbaar met volle besonderhede aangaande 2013 se kompetisies, reëls, logboekinligting en alles wat u moet weet om aan kompetisies deel te neem en pret te geniet. Wel, dit is nie eintlik 'n blou boek nie, dit is 'n PDF-lęer wat u kan aflaai en op u rekenaar of tablet kan lees.

Die naam Blou Boek is ontleen aan jare gelede toe dit in A5-formaat met 'n blou omslag uitgegee is.

Om dit af te laai, besoek www.sarl.org.za, gaan na die indeks, kies C op die spyskaart en u kan die kompetisiehandboek aflaai. Die volledige adres verskyn in die geskrewe uitgawe van hierdie bulletin, dit is www.sarl.org.za/public/contests/contestrules.asp. (Bulletinuitsaaiers hoef nie hierdie lang adres te lees nie).

6 METER STASIE IN ANTARKTIKA GEAKTIVEER TE WORD

Begin om in Februarie te luister vir Craig Hayhow, VK6JJJ, wat met die roepsein VK0JJJ van die kus van MacRobertson Land en Australië se basis by Mawson op die lug sal wees. Hy kom op 10 Februarie daar aan en beplan die oprigting van 'n 6 m baken om voortplanting op daardie band te toets. Die baken se roepsein sal VK0RTM wees met 400 W in 'n 5 element Yagi. Vir kontakte in die HF-bande sal hy 'n Flex 5000A en 'n versterker en 'n driehoekantenna gebruik. QSL via VK3ZAZ.

JAG LIONS-IN-THE-AIR

Hierdie geleentheid vind plaas oor die naweek naaste aan 13 Januarie, die geboortedatum van Melvin Jones, die stigter van die Lions organisasie. In 2013, sal dit die naweek van 12 en 13 Januarie wees.

Dit is nie 'n kompetisie nie, maar 'n geleentheid vir Lions om groete oor te dra aan ander Lions en Lionsklubs. Radioamateurs en lede van die verskillende Lionsklubs kom bymekaar en die Lions mag met ander Lions praat onder toesig van 'n gelisensieerde radioamateur. Gewoonlik word die naam en nommer van die Lionsklub uitgeruil.

Kontak Rad Handfield-Jones, ZS6RAD, met e-posadres rad.handfield-jones@pixie.co.za en Willie Axford, ZS5WI, met adres zs5wi@telkomsa.net vir meer inligting.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Al die sigbare sonvlekke is tans stabiel sonder enige kanse vir groot sonfakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 40.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan ook gereeld voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
12 en 13 Januarie - Jag LIONS-IN-THE-AIR.
15 Januarie – laaste dag om kommentaar in te stuur oor die Nasionale Radiofrekwensieplan aan sarlregwg@sarl.org.za.
31 Januarie – Sluitingsdatum vir insending van nominasies vir Raadslede vir die volgende termyn en mosies vir die 2013 AJV.
31 Januarie - Laaste dag vir indiening van 'n verkorte resume van 'n beoogde aanbieding vir SA AMSAT RUIMTESIMPOSIUM op 18 Mei 2013 na saamsat@sarl.org.za
23 Februarie – SARL se Jeugnaelloop 10:00 tot 12:00 SAT en 'n spesiale gebeurtenis beginnende om 09:00.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geďnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Die SARL-NUUSSPAN wens al ons luisteraars en intekenare 'n voorspoedige nuwe jaar toe.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, met vertalings deur Arthur Jordaan, ZS1AIJ, en George Honiball, ZS6NE, wat ook die bulletin saamgestel en geredigeer het.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003